Die skaam monsters bly wegkruip
‘n Mens sou dink dis bra moeilik om weg te kruip as jy 25 voet lank is. ‘n Mens sou ook dink dat as jy die eerste keer in die jaar 565 gewaar is, jy teen die tyd al die tydelike met die ewige sou verwissel het.Maar dinge werk blykbaar nie só as jy ‘n monster is nie.
Loch Ness in Skotland is groot, sowat 56 vierkante kilometer. Dis ook die tuiste van een van die vreemdste en geheimsinnigste wesens van ons tyd – Nessie, die Loch Ness monster. Daar bestaan soveel foto’s en videobande van Nessie dat dit menige filmster sou groen maak van jaloesie. Tog kan niemand met sekerheid sê of dit bestaan nie.
En hoe lyk Nessie? Een van die mense wat Nessie glo gesien het se beskrywing was een van ‘n dier met ‘n groot oneweredige lyf (Nessie het skynbaar minstens twee skofte, soos dié van ‘n kameel). Dit is omtrent 1.2 meter hoog en 7.6 meter lank, het ‘n nek van sowat 3 meter lank wat effe dikker is as die slurp van ‘n olifant.
Die meeste wetenskaplikes wat glo Nessie bestaan wel, reken Nessie is ‘n plesiosaurus, ‘n soort skadelose dinosaurus wat geklassifiseer kan word as ‘n see-soogdier. Plesiosaurusse het 65 miljoen jaar gelede uitgesterf. Ander sê Nessie is ‘n soort reusevis wat in die lentemaande uit die see migreer, maar die glibberige monster is ook reeds daarvan beskuldig dat dit ‘n seeslang of paling is.
Vis of dier, geen mens kan glo dat Nessie sodanig skadeloos is as jy die legende van die mens se eerste ontmoeting met hom, haar of dit ernstig opneem nie. Volgens dié verhaal moes die heilige Columba in die jaar 565 ‘n reis onderbreek toe hy by die rivier Ness op ‘n begrafnis afgekom het. Die oorledene het glo aan sy einde gekom nadat hy deur ‘n seemonster gebyt is. As heilige, het Columba blykbaar die mag gehad om dooie mense lewend te maak en die ongelukkige kerel met die bytwonde was gou weer op die been. Columba het ‘n boot nodig gehad om die rivier oor te steek, en Lugneus Mocumin spring toe in die water om dit op die oorkantste oewer te gaan haal. Mocumin het die oewer ongelukkig nie gehaal nie. Die lastige monster was steeds in die omtrek en het hom opgevreet.
Sedertdien is Nessie glo ongeveer 10 000 keer gewaar. Dit is tientalle kere afgeneem en tussen 1934 en 1992 sowat 30 keer op rolprent en video vasgele. Verskeie foto’s, films en videos is later uitgewys as vals maar daar bly nog ‘n goeie kruiwavragvol oor wat, op die oog af altans, lyk na die ware Jakob. Ses of sewe sonar-ekspidisies na Loch Ness het ook teruggekeer met die nuus dat hulle iets in die meer gevind het wat moontlik ‘n monster kon wees.
***
Nessie is nie die enigste vreemde wese wat ons laat wonder nie. Nessie het skynbaar nes geskrop die die dieptes van Loch Nes, maar die Verskriklike Sneeuman of Yeti woon op die dak van die wereld, soos die Himalajas, ‘n bergreeks op die grens tussen Tibet, Nepal en Indië ook bekend staan. Of die ou grote verdien om as “verskriklik” bekend te staan, is geen uitgemaakte saak nie. In 1938 het ene kapt. d'Auvergue sneeublind in die Himalajes rondgestrompel. Hy het later beweer hy is van ‘n gewisse dood gered deur ‘n Yeti wat hom gevind en versorg het todat hy sterk genoeg was om terug te keer na sy tuiste in Kalkutta. Maar ‘n Sjerpa-meisie vertel die verhaal van ‘n Sneeuman wat haar aangeval en twee van haar Jakke doodgemaak het.
Nie almal in die Sneeuman-familie verkies blykbaar die koue Himalajas nie. Stories het oor die jare uit verskeie werelddele opgeduik oor groot en verskriklike aapman-wesens. Daar is die Yeren van Sjina, Bigfoot van Noord-Amerika, the Yowie van Australie en Mapinguari van Suid-Amerika.
Die blyk dat die monsters van ons aarbol een ding gemeen het – almal soek na hulle en hulle soek na rus en vrede.