Roswell
Wat het op Roswell geval?
Meer as sestig jaar lank al ontken die Amerikaanse weermag en regering dit. Moenie laf wees nie, g’n vaartuig uit die buitenste ruimte het ooit naby Roswell in Nieu Mexico geval nie, sê hulle.
Waarom dan soek baie mense vandag, ná meer as sestig jaar, steeds na antwoorde oor wat presies by Roswell gebeur het? En waarom dan het soveel normale, intelligente mense oor die jare voet by stuk gehou dat wat in Julie 1947 in die kliprandjies naby Roswell geval het, wel ‘n vaartuig was van ‘n ander planeet, gebou deur wesens wat nie van ons aarde is nie met materiaal wat jy nie op aarde kry nie.
Die storie van die Roswell-wrakstukke het die eerste week van Julie 1947 begin toe ‘n plaasvoorman naby Roswell op vreemde wrakstukke afgekom en 'n paar daarvan aan die plaaslike sheriff oorhandig het. Hy het 509th Bomb Group. die weermageenheid op die dorp, daarvan in kennis gestel. Die bevelvoerder van die basis, Kol William Blanchard het opdrag gegee dat ‘n perseverklaring vrygestel moes word dat sy eenheid in besit is van die wrakstukke van ‘n “crashed flying disc.”
Fout!
Minstens dertig koerante in Amerika het daardie dag die storie gedra, maar ure later, toe Genl Clements McMullen van Andrews Army Air Field in Washington, D.C daarvan te wete gekom het, het hy Genl Roger Ramey, Bevelvoerder van die Agste Lugmagmasis in Fort Worth, Texas beveel om die storie te verander. Dié het toe gesê dit was ‘n weerballon wat geval het, nie ‘n “flying disc” nie. ‘ Bie wrakstukke is vinnig deur die Weermag weggery - glo na ‘n vliegtuigloods van ‘n hoogs geheime militere basis bekend as Area 51 in Nieu Mexico.
Mense wat die wrakstukke gesien het, het dadelik ‘n toesmeerdery geruik. Een van hulle was Lt. Walter Haut, kommunikasie offisier van die militere basis op Roswell. Hy het in 2003 ‘n verklaring gemaak en verseël met die opdrag dat dit eers na sy dood oopgemaak moes word. Haut is in 2005 oorlede. In die verklaring staan onder meer “Ek was toegelaat om die voorwerp van ‘n veilige afstand waar te neem. Dit was so 12 tot 15 voet lank, nie heeltemal so wyd nie en omtrent ses voet hoog.” Dit was glo eiervormig. En dit was nie al wat hy gesien het nie. Volgens die verklaring het hy ook die liggame gesien van wesens wat in die vreemde ruimtetuig gesterf het. Hulle was gedeeltelik bedek met ‘n seil, die koppe groter as normaal en die buitelyne onder die seil was omtrent die grootte van ‘n kind van so tien jaar oud.
Afgetrede Lieutenant Kolonel Jesse Marcel, inligtingsoffisier van 509th Bomb Group op Rosswell, een van die eerste twee offisiere om die toneel van die wrak te besoek, het in 1979 die volgende te sê gehad: “Dit was nie ‘n weerballon nie en dit was geen vliegtuig of missiel nie.” Van die vreemde materiaal wat die wrakstukke uigemaak het, het hy gesê: “Dit wou nie brand nie .... daai goed weeg niks, so dun, dit is niks dikker as die foelie in ‘n sigaretpakkie nie. Ek het dit probeer buig, maar dit wou nie buig nie. Ons het selfs probeer om ‘n duik daarin te maak met ‘n voorhamer. En daar was steeds geen duik in nie. Marcel het benadruk dat hy het geen liggame gesien het nie.
Die twee offissiere is maar twee van dosyne mense wat die wrakstukke gesien het en volhou dat dit wat in Roswell geval het, nie van die aarde af kom nie. Stukke van die materiaal wat herwin is, kon glo gevou en gekreukel word, maar los dit en dit vou vanself weer oop en alle kreukels en voumerke stryk vanself uit. Daar was ook skryftekens, soos hierogliewe op sekere dele van die wrakstukke.
Dit is die een kant van die storie. Diegene wat dit nie glo nie, het vinnig ‘n verduideliking gereed. Die naam van daardie verduideliking is Operasie Mogul
. Die Rosswell insident was minder as twee jaar nadat die atoombom in Hirosjima ontplof het. Die Amerikaners was nuuskierig om te weet of die Russe dalk ook atoomtoetse doen. Toe besluit hulle om te luister - deur spesiale balonne toe te rus met spesiale mikrofone. Die projek was ‘n hoogs geheime een met kodenaam Operasie Mogul, uitgevoer op Alamogordo, net meer as 140 km van Roswell. Rondom die tyd van die Roswell insident het een van die balonne, NYU Vlug Nr. 4, soek geraak. Sit twee en twee bymekaar, en jy kry wrakstukke van Vlug 4 op Roswell.
Wat is dan die waarhed oor Roswell? Dit is opgesluit iewers in ‘n vliegtuigloods van die hoogs geheime Area 51. En die wat weet wat daar aangaan, praat nie.