Piramides
Hoe het die piramiedes verrys?
Eintlik moes hulle nooit bestaan het nie, eenvoudig omdat hulle onmoontlik is. Daar is honderde van hulle versprei oor die aardbol. Elkeen, van Sjina, tot Suid-Amerika, Australië of Egipte dra dieselfde geheim: Hoe het dit hier gekom?
Die Amerikaners noem hulle “mounds”, ons praat van piramiedes.
Die grootste en gehimsinigste van almal is die Groot Piramiede van Egipte. Selfs aan vandag se standaarde gemeet, is dit massief, gebou met sowat twee miljoen rotsblokke, waarvan nie een ligter is as 2 ton nie. Die basis het vier sye, elk ongeveer 230 m lank. Die piramiedtoring wat daarop rus, troon sowat 140 meter (byna 50 verdiepings) die lug in en is die laaste oorblywende wonder van die antieke wereld.
Die Groot Piramiede van Egipte, só glo wetenskaplikes, het 20 jaar geneem om te voltooi. Dit is so akkuraat gebou, met die lasse tussen die massiewe rotsblokke so ingewikkeld en presies, dat geen sement nodig is om dit in plek te hou nie. Bouers sal dit vandag, selfs met ingewikkelde instrumente en gevorderde gereedskap, baie moeilik vind om na te boots – as hulle dit sou kon regkry!
Dit is ‘n lastige probleem vir wetenskaplikes. Hierdie massiewe grafkelder – as dit inderdaad is wat dit is - is gebou deur mense wat nie die kennis of gereedskap kon gehad om enige piramiede te bou nie. Hulle het nie eens hyskrane gehad om die blokke op te hys nie. Die noukeurigheid en akkuraatheid van die bouwerk daarinteen, vertel ‘n verhaal van bouers en argitekte wat hoogs ingewikkelde berekenings kon maak en gesofistikeerde meetinstrumente gehad het.
Hoe is dit dan gebou? Die gewildste teorie is dat ‘n soort oprit buite teen die piramiedes gebou is en dat 100 000 slawe die blokke teen ‘n steil pad opgesleep het op bevel van toesighouers met klappende swepe. Die werkers het dan daardie blokke met die hand in posisie geplaas. Dit sluit die plafon van die Koningin se kamer in – ‘n enkele rotsblok van 9 ton.
Ander kenners speel ‘n bietjie rond met die idee. Nee, meen ‘n Britse akademikus, die piramiedbouers was nie slawe nie, maar piramied-spesialiste, ‘n uitgesoekte werkmag wat goed opgelei en beloon is. ‘n Fransman wat die piramiedes agt jaar lank bestudeer het, het sy rekenaar ingespan en glo hy kan bewys die spraalpad is nie buite nie, maar binne-in die pramiede gebou. Buite of binne, om ‘n meneer van ‘n pad soos hierdie te bou, sou ‘n reusetaak gewees het sonder stootskrapers en vragmotors.
Daar is ‘n groeiende groep navorsers wat glo ons moet die oorsprong van dié indrukwekkende bouwerk tussen die sterre soek. Hulle is oortuig dat ons planeet duisende jare gelede besoek gehad het van besoekers uit die buitenste ruim. Miskien het hulle die piramiedes gebou. Een van die meer onlangse teorieë is dat die piramiede nie van rotsblokke gebou is nie, maar van ‘n soort sement. wat in vorms gegiet is soos die bouwerk gevorder het. Dit het verhard soos die tyd aangestap het.
Nog ‘n skrywer het die volgende gedagte. Die ouderdom van die aarde is volgens wetenskaplikes 4,5 milard jaar. Die mens, vertel die wetenskap ons, het eers sy verskyning so ‘n halfmiljoen jaar gelede gemaak. Wie sê daar was nie êrens, iewers in die oertyd ander mense nie – ‘n beskawing wat tegnologies ons meerdere was? Hulle is uitgewis deur een of ander natuurramp of miskien het hulle so ‘n ramp sien kom, in ruimteskepe geklim en ‘n ander heenkome gaan soek.
Wie dit ookal die pramiedes gebou het, die boodskap daarvan kan moeilik misgekyk word - ‘n boodskap wat sê: “Ons was hier.”