Ruimtediere

Harige helde se rol in die mens se segetog in die ruimte

20 Augustus 1960 – Dit was met ‘n opgewonde gevoel van afwagting wat die herwinningspan die luik van die ruimtekapsule oopgemaak het. Sou dit hierdie keer ‘n sukses wees, of sou opwinding maar weer, soos tevore verdamp in hol teleurstelling? Het die ruimtespan weer die hoogste tol betaal? Agtien omwentelings om die aarde – sou hulle dit moontlik kon oorleef?

Toe die luik oopswaai was daar ‘n oomblik van stilte. Toe weergalm die vreugdekrete. Die span het lewend teruggekeer - lewend en vol lewe! Daarvan het twee nat neuse, swaaiende sterte en opgewonde tjankblaffies vanuit die kapsule getuig. Hierdie was ‘n besonderse span ruimtevaarders, bestaande uit twee honde, veertig muise, twee rotte en ‘n paar plante.

Hoewel daar nie ‘n mens in sig was nie, was hierdie miskien die belangrikste oomblik in die geskiedenis van ruimtevaart. Wesens van die planeet aarde het, sovêr ons weet, hulle die eerste keer in die planet se geskiedenis van oor die vier mijard jaar van hul tuiste losgemaak,‘n sending in die ruimte voltooi en lewend teruggekeer. Wat van die rotte en muise geword het, weet ons nie, maar die twee honde uit Rusland, Strelka (dit beteken klein pyltjie) en Belka (eekhoring), sal vir altyd ‘n ereplek inneem in die ruimtevaartgeskiedenis. Die ruimtevlug het geen letsels gelaat nie – daarvan getuig die 16 klein hondjies wat Strelka kort na die vlug in die lewe gebring het.

Die hond, só sê hulle, is die mens se beste vriend. Een van Strelka se kroos het beslis vriende in hoë kringe gehad – want dit is as geskenk deur die destydse Russiese premier, Nikita Krushev aan Caroline, dogter van oud-pres. John F. Kennedy oorhandig Teen die tyd dat die eerste mens dit in die ruimte gewaag het (Yuri Gagarin van Rusland) is talle diere gebruik vir ruimtesendings, onder meer, katte (sekerlik nie welkome nuus vir Belka en Strelka nie), paddas en ape. Party het lewend teruggekeer, party nie. Leika, die eerste hond wat die ruimte in is in Sputnik 2 en deur die Amerikaners Muttnik gedoop is, was een van die ongelukkiges.

Een van die verstommendste verhale was dié van Ham, ‘n sjimpansee. Met die opstyg het iemand iets nie reg gedoen nie en Ham is teen ‘n spoed van 9 425 km per uur die ruimte in – 2 345 km per uur vinniger as beplan. Hy was ook langer gewigloos as beplan. Tog het hy sy take uitgevoer, presies soos hy geleer is. Met die terugkeer aarde toe, het Ham se kapsule die pad byster geraak en so 96 km van die beplande punt geland. Teen die tyd dat die reddingshelikopter die kapsule 40 minute later bereik het, was dit reeds byna heeltemal onder water en aan die sink. Met ‘n ruimtekapsule vol seewater wat heen en weer aan die punt van die reddingstou swaai, het die helikopter koers gekies na die naaste skip. Die kapsule is neergelaat en Ham het ongedeerd uitgeklouter. Toe sy redders hom ‘n halwe lemoen en ‘n appel aanbied, het hy nie nee gesê nie.

***

20 Julie 1969. - Die alarmliggie dra die boodskap helder en duidelik oor aan die twee manne in die klein stuurkajuit van die landingstuig. Die grond, besaai met rotse so groot soos motors, blits vinnig nader. Te vinnig. Hulle het boonop minder as 30 sekondes se brandstof oor. Dit was die oomblik van waarheid

Sekondes later, met bitter min brandstof oor en enkele sekondes voordat die tuig die grond sou bereik, verander die landskap en die rotse maak plek vir ‘n woestynagtige sandveld. Apollo 11 land veilig op die maan.

Toe Neil Armstrong, bevelvoerder van die Apollo 11 ruimtesending , die stuurkajuit verlaat en sy voet op die sanderige oppervlakte van die maan neersit, was dit met onvergeetlike woorde wat weerklank sou vind dwarsoor die aardbol: “One small step for man, one giant leap for mankind.” Vir die eerste keer in die bekende geskiedenis het die mens ‘n ander hemelliggaam besoek.

Byna veertig jaar later is hierdie ruimtesending steeds een van die mens se grootste triomfoomblikke. Baie pioniers het hierdie triomf moontlik gemaak – ook pioniers soos Belka, Strelka Ham, Leika en die baie ander harige helde.