Vreemde dinge op die Eldridge
Vreemde dinge het die dag van 28 Oktober 1943 op die USS Eldridge gebeur. Altans, so sê dié wat sê hulle weet.
Die skip was niks om oor huis toe te skryf nie. Dit was op die oog-af ‘n doodgewone fregat, een van baie in die Amerikaanse vloot van die Tweede Wêreldoorlog, maar dit het reggekry wat niks of niemand voorheen of daarna kon regkry nie. Dit was onsigbaar. Of so sê hulle.
Die skip was niks om oor huis toe te skryf nie. Dit was op die oog-af ‘n doodgewone fregat, een van baie in die Amerikaanse vloot van die Tweede Wêreldoorlog, maar dit het reggekry wat niks of niemand voorheen of daarna kon regkry nie. Dit was onsigbaar. Of so sê hulle.
Dit was nie al nie. Die legende van die USS Eldridge het nog baie kinkels: ‘n string kranksinnige slagoffers, onsigbare mense wat in vlamme uitbars en ‘n reis deur tyd. Dit is geen wonder nie dat die skip in talle boeke en twee rolprente verewig is en dat dit selfs sy verskyning in rekenaarspeletjies maak.
Getuienis om hierdie legende te staaf, is bra dun, en die Amerikaanse vloot hou vol dat dit blote versinsel is. Tog is daar ‘n handjievol mense wat vandag nog sweer elke woord is waar.
Hulle vertel dat die Eldridge baie spesiale en hoogs geheime toerusting aan boord gehad het. Daardie toerusting is deur Amerikaanse wetenskaplikes ontwikkel en op en op 28 Oktober 1943 in werking gestel. Wat gevolg het, sê hulle, was skrikwekkend. Die een oomblik was die skip nog vasgemeer in die vloot se skeepswerf in Philadelphia. Die volgende was daar ‘n blou flits – en eensklaps was daar geen skip meer nie. Die USS Eldridge was weg. Dit het spoorloos verdwyn, soos mis voor die son. Later daardie selfde dag was dit terug, net so skielik as wat dit verdwyn het, maar aan boord was alles baie duidelik nie pluis nie.
Hulle vertel van bemanningslede wat aan metaalvoorwerpe op die skip vasgesit het, asof hulle daaraan vasgesweis was. Ander het verdwyn en is nooit weer gesien nie. Die verdwynings was glo in sekere gevalle dae na die voorval, soos die man wat opgestaan het van die tafel in ‘n restaurant waar hy ‘n maaltyd saam met sy vrou en kind genuttig het. Hy het glo opgestaan, deur ‘n muur gestap en verdwyn. ‘n Ander een was glo in ‘n geveg betrokke en het tot die verbasing van sy opponent, daar en dan verdwyn.
Die vreemdste van alles was dié wat ewe luiters op die skip sou rondstap en skielik sonder waarskuwing, begin verdwyn het. Wanneer dit gebeur het, moes só ‘n persoon baie vinnig deur ‘n makker aangeraak word. Dit het hom glo die krag gegee om na die sigbare wêreld terug te keer. In een geval het twee manne wat só ‘n makker aangeraak het, in vlamme uitgebars.
In die dae wat op 28 Oktober 1943 gevolg het, sou nog vreemde verhale aan die lig kom. Ooggetuies het vertel dat hulle die USS Eldridge dieselfde dag in die see naby Norfolk, Virgina – 346 kilometer van Philadelphia af – gewaar het. Die skip was ‘n tyd lank sigbaar en het toe verdwyn.
Dié wat sweer by die verhaal, vertel dat byna al die bemanningslede van die skip kort ná die voorval uit die vloot ontslaan is. Hulle het kranksinnig geword. Om alles te kroon, het twee bemanningslede glo verward van die skip afgespring terwyl dit onsigbaar was – en een van hulle het ‘n tydreisiger geword.. Toe hy tot sy sinne kom, was hy op die lugmagbasis in Montauk, Long Island – en die jaar was 1983! Montauk was glo die hoofkwartier vanwaar die wetenskaplikes hul hoogs geheime navorsing gedoen het na verskynsels soos onsigbaarheid, magnetisme en swaartekrag.
Die Amerikaanse vloot het die verhaal reeds verskeie kere ontken en sommige van die bewerings wat oor die navorsing in Montauk gemaak word, klink selfs meer vêrgesog as die verhaal van die USS Eldridge se verdwyning. Waarheid of versinsel, die spook van die USS Eldridge wil maar net nie in die niet verdwyn nie.
