Spoke
Dis 'n gespook om hierdie raaisel te ontrafel
Lady Tyron se partytjie was in volle swang toe die haar man opdaag. Soos dit ‘n visie-admiraal van Haar Majesteit se vloot betaam het, het hy statig en waardig met die trappe afgestap, geklee in volle vlootuniform.
Die onthaalsaal het stil geword en almal het hom aangestaar. Die admiraal het deur die saal gestap sonder om ‘n enkele gas te groet, sy gesig uitdrukkingloos. Hy het ‘n sydeur oopgemaak en uitgestap.
Die verdwaasde gaste het geweet visie-admiraal Sir George Tyron was op daardie oomblik besig met ‘n vlootoefening honderde kilometer daarvandaan. As hulle gewonder het of hulle pas ‘n spook gesien het, was hulle reg. Hulle het.
Visie-admiraal Tyron was in bevel van een van die indrukwekkendste skepe in die vloot, die HMS Victoria, wat op 22 Junie 1893 gesink het ná ‘n botsing met die HMS Camperdown. Altesaam 358 vlootsoldate, insluitend Vise-admiraal Tyron, het omgekom. Die partytjie was die aand van die botsing.
Spoke, as mens die Afrikaanse uitdrukking kan glo, loop. Neem nou maar die visie-admiraal. Hy het geloop, in die ware, egte spooktradisie. Maar dit is blykbaar nie hoe alle spoke in Amerika hulle ding doen nie. Party van hulle vlieg. Eerste Klas boonop.
‘n Lugwaardin van Eastern Airlines het glo op ‘n dag opgemerk dat daar ‘n ekstra passassier aan boord was. Hy het lewensgroot daar gesit in een van die spogsitplekke, geklee in ‘n uniform van Eastern Airlines, maar sy naam was nie op die passasierslys nie. Sy het met hom gepraat, maar hy het nie geantwoord nie. Toe roep sy die kaptein.
Dit stomme man het hom asvaal geskrik toe hy die swygende passasier sien. Dit was Bob Loft, ‘n vlieenier wat ook vir dieselfde redery gewerk het. Dit was nou voor sy dood die vorige jaar. Terwyl die kaptein sy oorlede kollega aangestaar het, het Loft verdwyn. Loft was op 29 Desember 1972 vliënier van Eastern Airlines se vlug 401. Terwyl hy en sy mede-vlieënier, Don Repo, gereed gemaak het om op die lughawe van Miami te land, het dinge lelik skeefgeloop en die vliegtuig het neergestort. Altesaam 101 mense het in die ongeluk gesterf, insluitend Bob Loft. Don Repo het ‘n dag later aan sy beserings beswyk …..
Sekere onderdele van die vliegtuig is herwin en in ander vliegtuie ingebou. In die maande wat gevolg het, is Repo en Loft in verskeie vliegtuie van die redery gewaar – vliegtuie wat toegerus was met onderdele van vlug 401. Hulle is glo meer as twintig keer deur verskillende bemanningslede in Eastern Airline vlugte opgemerk. Dit is asof hulle waggehou het oor die vliegtuie van Eastern Airlines. Een keer het ‘n bemanningslid die gesig van Loft in ‘n mikrogolfoond gewaar. ‘n Paar maande later het daardie oond in vlamme uitgebars. Die onderdele van vlug 401 is verwyder – en die spoke het daarna nie weer saamgevlieg nie.
Verhale soos die twee hierbo is baie algemeen, maar baie mense wil niks van spoke weet nie. Bog, sê hulle. Dis alles pure bangmaakstories. Daar is g’n so ‘n ding as ‘n spook nie. Aan die ander kant is daar baie mense wat vas oortuig is hulle het een of ander tyd in hul lewe‘n spook gesien. Trouens, spoke is so volop dat hulle selfs deur ons musiek loop. Koos du Plessis se skurk van ouds spook op die pad na Nooitgedacht om sy sak vol goud in die hande te kry en Anton Goosen besing die rylopende spookmeisie van Uniondale, om net twee te noem.
Dit laat mens wonder: Is hulle of is hulle nie? Dit is ‘n vraag wat sekerlik nog lank by ons sal spook.
No comments:
Post a Comment